Afrikaans 1983

Handelinge 25:14-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Hulle het 'n paar dae daar deurgebring, en Festus het Paulus se saak by die koning ter sprake gebring: “Hier is iemand wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is.

15. By my aankoms in Jerusalem het die priesterhoofde en die familiehoofde van die Jode 'n aanklag teen hom ingebring en my gevra om hom skuldig te bevind.

16. Ek het hulle geantwoord dat dit nie die Romeinse gebruik is om 'n beskuldigde as guns uit te lewer nie. Hy moet eers geleentheid kry om hom voor sy aanklaers teen hulle beskuldiging te verdedig.

17. Toe hulle hierheen gekom het, het ek sonder uitstel die volgende dag op die regbank gaan sit en bevel gegee dat die man voor my gebring moet word.

18. Sy aanklaers het om hom gaan staan en hom beskuldig, maar nie van ernstige misdade soos ek verwag het nie.

19. Dit het alles gegaan oor twisvrae in hulle eie godsdiens en oor 'n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe.

20. Omdat ek nie geweet het hoe om hierdie saak te hanteer nie, het ek gevra of hy gewillig sou wees om Jerusalem toe te gaan en daar oor hierdie dinge verhoor te word.

21. Maar Paulus het hom op die keiser beroep. Hy wou liewer gevangene bly en deur die keiser verhoor word. Ek het toe beveel dat hy aangehou moet word totdat ek hom na die keiser toe kan stuur.”

22. Agrippa sê toe vir Festus: “Ek sou self ook graag die man wil hoor.”“Môre kan u hom hoor,” antwoord Festus.

23. Die volgende dag het Agrippa en Bernice met groot vertoon die saal binnegekom in geselskap van die generaals en die vooraanstaande inwoners van die stad. Op Festus se bevel is Paulus ingebring.