Afrikaans 1933-1953

2 Kronieke 30:1-8 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAARNA het Jehiskía gestuur na die hele Israel en Juda, en ook briewe geskrywe aan Efraim en Manasse om te kom na die huis van die Here in Jerusalem, om die pasga tot eer van die Here, die God van Israel, te hou.

2. En die koning en sy owerstes en die hele vergadering het in Jerusalem besluit om die pasga in die tweede maand te hou,

3. want hulle kon dit op sy tyd nie hou nie, omdat die priesters hulle nie voldoende geheilig en die volk in Jerusalem nie saamgekom het nie.

4. En die saak was reg in die oë van die koning en in die oë van die hele vergadering.

5. En hulle het dit vasgestel om ’n oproep deur die hele Israel, van Berséba tot Dan, te laat gaan dat hulle moes kom om die pasga tot eer van die Here, die God van Israel, in Jerusalem te hou; want hulle het dit nie as ’n menigte gehou soos voorgeskrywe was nie.

6. Die hardlopers gaan toe met die briewe uit die hand van die koning en sy owerstes deur die hele Israel en Juda, en volgens die gebod van die koning, om te sê: Kinders van Israel, bekeer julle tot die Here, die God van Abraham, Isak en Israel, dat Hy Hom mag wend tot die vrygeraaktes wat vir julle oorgebly het uit die hand van die konings van Assirië.

7. En wees nie soos julle vaders en julle broers wat ontrou teen die Here, die God van hulle vaders, gehandel het nie, sodat Hy hulle ’n voorwerp van verbasing gemaak het soos julle self sien.

8. Verhard nou nie julle nek soos julle vaders nie, gee aan die Here die hand en kom na sy heiligdom wat Hy vir ewig geheilig het, en dien die Here julle God, dat sy toorngloed van julle afgewend kan word.