Afrikaans 1933-1953

2 Konings 5:9-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. So het Naäman dan gekom met sy perde en met sy waens en voor die deur van Elísa se huis stilgehou.

10. Toe stuur Elísa ’n boodskapper na hom om te sê: Gaan heen, was jou sewe maal in die Jordaan; dan sal jou vlees terugkeer, en jy sal rein wees.

11. Maar Naäman het baie kwaad geword en weggegaan en gesê: Kyk, ek het gedink: Hy sal sekerlik na my uitkom en staan en die Naam van die Here sy God aanroep en sy hand oor die plek heen en weer beweeg en die melaatsheid wegneem.

12. Is Abána en Farpar, die riviere van Damaskus, nie beter as al die waters van Israel nie? Kon ek my nie daarin was en rein word nie? En hy het omgedraai en vererg weggery.

13. Toe kom sy dienaars nader en spreek met hom en sê: My vader, as die profeet u ’n groot saak beveel het, sou u dit nie doen nie? Hoeveel te meer nou dat hy u gesê het: Was jou, en jy sal rein word?

14. Daarop het hy afgeklim en sewe maal in die Jordaan ondergeduik volgens die woord van die man van God, en sy vlees het teruggekeer soos die vlees van ’n jong seun, en hy het rein geword.

15. Toe draai hy om na die man van God, hy en sy hele gevolg, en hy het ingekom en voor hom gaan staan en gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel. Neem dan nou tog ’n geskenk aan van u dienaar.

16. Maar hy sê: So waar as die Here leef voor wie se aangesig ek staan, ek sal dit nie aanneem nie! En hy het by hom aangehou om dit aan te neem, maar hy het geweier.

17. En Naäman het gesê: So nie, laat dan tog aan u dienaar ’n vrag grond gegee word, soveel as ’n paar muile kan dra; want u dienaar sal nie meer brandoffer of slagoffer aan ander gode bring nie as net aan die Here.