Afrikaans 1933-1953

2 Konings 4:33-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

33. En hy het ingegaan en die deur agter hulle twee toegesluit en tot die Here gebid.

34. Daarna klim hy op en gaan lê op die kind en sit sy mond op dié se mond en sy oë op dié se oë en sy hande op dié se hande en buig oor hom neer; en die vlees van die kind het warm geword.

35. Daarop het hy teruggekom en in die huis een keer heen en weer geloop, om dan opnuut op te klim en oor hom neer te buig; en die seun het sewe maal genies; en die seun het sy oë oopgemaak.

36. Toe roep hy Gehási en sê: Roep hierdie Sunamitiese vrou. Nadat hy haar dan geroep en sy by hom gekom het, sê hy: Tel jou seun op.

37. En sy het ingekom en voor sy voete geval en na die aarde gebuig; en sy het haar seun opgetel en uitgegaan.

38. Weer het Elísa in Gilgal gekom, en daar was hongersnood in die land; en terwyl die profete-seuns voor hom sit, sê hy aan sy dienaar: Sit die groot pot op en maak ’n kooksel klaar vir die profete-seuns.

39. Toe gaan een uit in die veld om groente te versamel; en hy het wilde ranke gekry en daarvan sy kleed vol karkoere gepluk en gekom en dit in die kookpot stukkend gesny; want hulle het dit nie geken nie.

40. Daarna het hulle vir die manne opgeskep om te eet; maar net toe hulle van die kooksel eet, skreeu hulle en roep: Man van God, die dood is in die pot! En hulle kon dit nie eet nie.

41. Maar hy sê: Gaan haal dan meel. En hy gooi dit in die pot en sê: Skep uit vir die mense, dat hulle eet. En daar was niks verkeerds in die pot nie.

42. En daar het ’n man van Baäl-Salísa gekom en vir die man van God eerstelingsbrode, twintig garsbrode, en vars graan in sy mandjie gebring. En hy het gesê: Gee vir die mense, dat hulle eet.