Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 6:23-29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

23. maar ander bote het van Tiberias af aangeland, naby die plek waar hulle die brood geëet het waarvoor die Meester gedank het.

24. Nadat die mense dan gesien het dat nie Yeshua of Sy studentevolgelinge daar is nie, het hulle self ook in die bote geklim en na K’far-Nagum gegaan om Yeshua te soek

25. en toe hulle Hom oorkant die see gekry het, vra hulle vir Hom: “Leermeester, wanneer het U hier aangekom?”

26. Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: Julle soek My nie omdat julle wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.

27. Moenie werk vir die kos wat tot niet gaan nie, maar vir die kos wat aanhou tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens vir julle sal gee, want dit is op Hom wat die Vader, as God, Sy seël geplaas het.”

28. Hulle vra vir Hom: “Wat moet ons doen om in die diens van God te werk?”

29. Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dít is die dienswerk van God, dat julle in Hom, wat Hy gestuur het, vertrou.”