Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 18:23-34 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

23. Yeshua antwoord hom: “As Ek boos gepraat het, getuig wat boos was, maar as Ek reg gepraat het, waarom slaan jy My?”

24. Hierna het Hanan Hom, steeds vasgebind, na Kayafa, die hoofpriester, gestuur.

25. Shim’on Kefa het gestaan en hom warm gemaak en hulle vra vir hom: “Is jy nie ook een van Sy studentevolgelinge nie?” Hy ontken dit toe en sê: “Ek is nie.”

26. Een van die hoofpriester se slawe, wat familie was van die man wie se oor Kefa afgekap het, vra: “Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie?”

27. Weer het Kefa dit ontken en dadelik het ’n haan gekraai.

28. Toe neem hulle Yeshua vanaf Kayafa na die goewerneur se kantore. Dit was reeds skemeroggend en hulle het self nie in die kantore ingegaan nie sodat hulle nie onrein sou wees voordat hulle die Pesagmaal geëet het nie.

29. Pilatos het na hulle toe uitgekom en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie Man in?”

30. Hulle antwoord en sê vir hom: “As Hy geen boosdoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie.”

31. Pilatos sê vir hulle: “Vat julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet.” Waarop die Jode vir hom sê: “Dit is nie wettig vir ons om iemand dood te maak nie”

32. sodat dit wat Yeshua gesê het om aan te dui watter dood Hy sou sterf vervul sou word.

33. Pilatos gaan toe weer in die goewerneur se kantore in en roep Yeshua en vra vir Hom: “Is U die Koning van die Jode?”

34. Yeshua antwoord hom: “Sê u dit uit uself, of het ander dit van My vir u gesê?”