Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Sh'mu'el 30:1-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Toe het dit gebeur toe Dawid en sy manne op die derde dag by Ziklag aankom, dat die `Amalekiete ’n inval in die Negev en in Ziklag geloots het en hulle het Ziklag verslaan en dit met vuur verbrand.

2. Hulle het die vroue en almal wat daarin was, gevange geneem, beide klein en groot, sonder om enige iemand dood te maak, hulle weggevoer en verder gegaan.

3. Toe Dawid en sy manne by die stad kom, let op, was dit met vuur verbrand en hulle vroue, hulle seuns en hulle dogters is gevange geneem.

4. Toe het Dawid en die manne wat by hom was, hulle stem verhef en gehuil totdat daar geen krag meer in hulle was om te huil nie.

5. Dawid se twee vroue, Agino’am uit Yizre’el en Avigayil, die weduwee van Naval, van Karmel, is gevange geneem.

6. Meer nog, Dawid was baie benoud, want die manne het gepraat daarvan om hom te stenig, want al die manne was verbitterd, elkeen oor sy seuns en sy dogters, maar Dawid het homself versterk in יהוה, sy God.

7. Toe sê Dawid vir Avyatar, die priester, die seun van Agimelekh: “Bring asseblief vir my die skouerkleed.” Avyatar het die skouerkleed na Dawid toe gebring.

8. Dawid het יהוה geraadpleeg en gesê: “Sal ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?” Hy sê vir hom: “Agtervolg, want jy sal hulle sekerlik inhaal en jy sal sekerlik almal red.”

9. Dawid het gegaan, hy en die ses honderd man wat by hom was en by die spruit B’sor gekom, waar sommige agtergebly het.

10. Dawid het agtervolg, hy en vier honderd man, want twee honderd man, wat te moeg was om deur die spruit B’sor te trek, het agtergebly.

11. Hulle het ’n Mitzrayiet in die veld gevind wat hulle na Dawid gebring het, vir hom brood gegee wat hy geëet het en water om te drink.

12. Hulle het vir hom ’n stuk vyekoek en twee rosynekoeke gegee en hy het geëet; toe het sy gees ontwaak, want hy het geen brood geëet of water gedrink vir drie dae en drie nagte nie.

13. Dawid vra vir hom: “Aan wie behoort jy en waar kom jy vandaan? Hy sê: “Ek is ’n jongman van Mitzrayim, die slaaf van ’n Amalekiet en my meester het my laat agterbly toe ek drie dae gelede siek geword het.

14. Ons het ’n inval gedoen in die Suidland van die K’retiërs, in dié van Y’hudah, in die Suidland van Kalev en Ziklag met vuur verbrand.

15. Toe vra Dawid vir hom: “Sal jy my afbring na hierdie bende toe?” Hy sê: “Sweer vir my by God dat u my nie sal doodmaak en my nie sal uitlewer in die hand van my meester nie en ek sal u afbring na hierdie bende toe.”

16. Toe hy hom afgebring het, let op, is hulle oor die hele land verstrooi, besig om te eet, te drink en te dans as gevolg van die groot buit wat hulle uit die land van die F’lishtyne en uit die land van Y’hudah gevat het.