Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Sh'mu'el 19:18-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

18. Dawid het gevlug en ontsnap en by Sh’mu’el in Ramah gekom en hom alles vertel wat Sha’ul aan hom gedoen het. Hy en Sh’mu’el het in die blyplekke van die profete gaan bly.

19. Dit is vir Sha’ul vertel en gesê: “Let op, Dawid is in die blyplekke by Ramah.”

20. Toe stuur Sha’ul boodskappers om Dawid te gaan haal, maar toe hulle die groep profete sien profeteer, met Sh’mu’el wat staan en hulle lei, het die Gees van God oor die boodskappers van Sha’ul gekom en hulle het ook geprofeteer.

21. Toe dit aan Sha’ul vertel is, het hy ander boodskappers gestuur en hulle het ook geprofeteer. Sha’ul het weer, die derde keer, boodskappers gestuur en hulle het ook geprofeteer.

22. Toe het hy self na Ramah gegaan en tot by die groot put gekom wat by Sekhu is en gevra en gesê: “Waar is Sh’mu’el en Dawid?” Iemand antwoord: “ Let op, hulle is by die blyplekke in Ramah.”

23. Hy het aangegaan tot by die blyplekke in Ramah en die Gees van God het ook oor hom gekom sodat hy saam geloop en aanhoudend geprofeteer het totdat hy by die blyplekke in Ramah gekom het.

24. Hy het ook sy klere uitgetrek en hy het ook voor Sh’mu’el geprofeteer en kaal gelê daardie hele dag en die hele nag; daarom sê hulle: “Is Sha’ul ook onder die profete?”