Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Sh'mu'el 17:9-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

9. As hy in staat is om teen my te veg en my dood te maak, dan sal ons julle slawe word, maar as ek hom oorwin en hom doodmaak, dan moet julle ons diensknegte word en ons dien.”

10. Weer sê die F’lishtyn: “Ek daag die gevegsordes van Yisra’el vandag uit! Gee vir my ’n man dat ons saam kan veg.”

11. Toe Sha’ul en die hele Yisra’el hierdie woorde van die F’lishtyn hoor, was hulle ontsteld en baie bang.

12. Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Beit-Legem in Y’hudah, met die naam van Yishai; hy het agt seuns gehad. Yishai was oud in die dae van Sha’ul, ver gevorderd in jare onder mense.

13. Die drie oudste seuns van Yishai het Sha’ul in die oorlog gevolg en die name van sy drie seuns wat na die oorlog gegaan het, was Eli’av, die oudste en die tweede na hom, Avinadav en die derde, Shammah.

14. Dawid was die jongste. Die drie oudstes het Sha’ul gevolg,

15. maar Dawid het heen en weer gegaan van Sha’ul af om sy vader se kleinvee in Beit-Legem op te pas.

16. Die F’lishtyn het in die oggend en in die aand vorentoe gekom en gaan staan, veertig dae lank.

17. Toe het Yishai vir sy seun Dawid gesê: “Vat nou vir jou broers ’n efa van hierdie gebraaide graan en hierdie tien brode en hardloop na die kamp na jou broers toe.

18. Bring ook hierdie tien skywe kaas na die bevelvoerder oor duisend en kyk na die welstand van jou broers en bring nuus terug van hulle,

19. want Sha’ul, hulle en al die manne van Yisra’el is in die vallei van Elah, besig om te veg teen die F’lishtyne.

20. Dawid het vroeg die volgende oggend opgestaan en die trop by ’n wagter gelos, die goed gevat en gegaan soos Yishai hom beveel het. Hy het by die sirkel van die kamp gekom terwyl die leër uitgegaan het in gevegsorde en die oorlogskreet uitgeskreeu het.

21. Yisra’el en die F’lishtyne het in gevegsordes opgetrek; leër teen leër.

22. Toe los Dawid sy pakgoed in die sorg van die oppasser en hardloop na die gevegsterrein om sy broers te groet.

23. Terwyl hy met hulle praat, let op, het die kampioen, die F’lishtyn vanaf Gat genaamd Golyat, opgekom uit die leër van die F’lishtyne en hy het hierdie selfde woorde gepraat en Dawid het dit gehoor.

24. Toe al die manne van Yisra’el die man sien, vlug hulle van hom af weg en was baie bang.

25. Die manne van Yisra’el het gesê: “Het julle hierdie man gesien wat opkom? Hy het sekerlik opgekom om Yisra’el uit te tart en dit sal wees dat die koning die man wat hom doodmaak sal verryk met groot rykdom en ook vir hom sy dogter gee en sy vader se huis in Yisra’el vry maak.