Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Sh'mu'el 17:31-40 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

31. Toe die woorde wat Dawid sê gehoor word, is dit aan Sha’ul vertel en hy het hom laat haal.

32. Dawid het vir Sha’ul gesê: “Laat geen man se binneste faal as gevolg van hom nie, u dienskneg sal gaan en teen hierdie F’lishtyn baklei.”

33. Toe antwoord Sha’ul vir Dawid: “Jy is nie in staat om teen hierdie F’lishtyn op te gaan om teen hom te veg nie, want jy is nog jonk terwyl hy ’n krygsman van sy jeug af is.”

34. Dawid sê egter vir Sha’ul: “U dienskneg het sy vader se kleinvee opgepas. Wanneer ’n leeu of ’n beer kom en ’n lam uit die trop uit wegvat,

35. dan gaan ek uit agter hom aan en val hom aan en red dit uit sy bek uit en as hy teen my opstaan, het ek hom aan sy baard gegryp, geslaan en hom doodgemaak.

36. U dienskneg het beide die leeu en die beer doodgemaak en hierdie onbesnede F’lishtyn sal soos een van hulle wees, aangesien hy die leër van die lewende God uitgetart het.”

37. Dawid het ook gesê: “יהוה wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hy sal my bevry uit die hand van hierdie F’lishtyn.” Sha’ul het vir Dawid gesê: “Gaan en mag יהוה by jou wees!”

38. Sha’ul het Dawid met sy klere aangetrek en ’n koper helmet op sy kop gesit en hom met pantser aangetrek.

39. Dawid het sy swaard bo-oor sy klere vasgegord en probeer loop omdat hy dit nooit probeer het nie. Dawid het vir Sha’ul gesê: “Ek kan nie hiermee gaan nie, want ek het dit nooit probeer nie.” Dawid het hulle uitgetrek.

40. Hy het sy staf in sy hand gevat en vir hom vyf gladde klippe uit die spruit gekies en dit in sy herderssak gesteek wat hy gehad het, in die slingersak en sy slinger was in sy hand en hy het die F’lishtyn genader.