Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Sh'mu'el 17:1-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Die F’lishtyne het hulle leërs bymekaargebring vir oorlog en vergader by Sokhoh wat aan Y’hudah behoort en kamp opgeslaan tussen Sokhoh en `Azekah in Efes-Dammim.

2. Sha’ul en die manne van Yisra’el het bymekaargekom en gekamp in die vallei van Elah en in gevegsorde opgestel om teen die F’lishtyne te veg.

3. Die F’lishtyne het aan die een kant op die berg gestaan terwyl Yisra’el aan die ander kant op die berg gestaan het, met die vallei tussen hulle.

4. Toe kom daar ’n kampioen uit die leërs van die F’lishtyne, genaamd Golyat, vanaf Gat; sy lengte was ses el en ’n span (2,92 meter).

5. Daar was ’n koper helmet op sy kop en hy was geklee in ’n pantser van skubbe wat vyf duisend sikkels koper geweeg het,

6. met skeenplate van koper aan sy bene en ’n koper lans tussen sy skouers.

7. Die steel van sy spies was soos ’n wewersbalk en die lem van sy spies was ses honderd sikkels yster; sy skilddraer het ook voor hom geloop.

8. Hy het gaan staan en geskree na die gevegsordes van Yisra’el en vir hulle gesê: “Hoekom kom julle uit om op te trek in gevegsdrag? Is ek nie die F’lishtyne en julle diensknegte van Sha’ul nie? Kies vir julleself ’n man en laat hom afkom na my toe.

9. As hy in staat is om teen my te veg en my dood te maak, dan sal ons julle slawe word, maar as ek hom oorwin en hom doodmaak, dan moet julle ons diensknegte word en ons dien.”

10. Weer sê die F’lishtyn: “Ek daag die gevegsordes van Yisra’el vandag uit! Gee vir my ’n man dat ons saam kan veg.”

11. Toe Sha’ul en die hele Yisra’el hierdie woorde van die F’lishtyn hoor, was hulle ontsteld en baie bang.

12. Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Beit-Legem in Y’hudah, met die naam van Yishai; hy het agt seuns gehad. Yishai was oud in die dae van Sha’ul, ver gevorderd in jare onder mense.

13. Die drie oudste seuns van Yishai het Sha’ul in die oorlog gevolg en die name van sy drie seuns wat na die oorlog gegaan het, was Eli’av, die oudste en die tweede na hom, Avinadav en die derde, Shammah.

14. Dawid was die jongste. Die drie oudstes het Sha’ul gevolg,

15. maar Dawid het heen en weer gegaan van Sha’ul af om sy vader se kleinvee in Beit-Legem op te pas.

16. Die F’lishtyn het in die oggend en in die aand vorentoe gekom en gaan staan, veertig dae lank.

17. Toe het Yishai vir sy seun Dawid gesê: “Vat nou vir jou broers ’n efa van hierdie gebraaide graan en hierdie tien brode en hardloop na die kamp na jou broers toe.

18. Bring ook hierdie tien skywe kaas na die bevelvoerder oor duisend en kyk na die welstand van jou broers en bring nuus terug van hulle,

19. want Sha’ul, hulle en al die manne van Yisra’el is in die vallei van Elah, besig om te veg teen die F’lishtyne.