Die Pad van Waarheid tot die Lewe

1 Sh'mu'el 1:20-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

20. Dit het gebeur op die tyd nadat Hannah bevrug is dat sy geboorte gegee het aan ’n seun en hom Sh’mu’el genoem het, “want,” het sy gesê, “ek het hom van יהוה gevra.”

21. Toe het die man, Elkanah, saam met sy huisgesin opgegaan om aan יהוה die jaarlikse offer en sy gelofte-offer te bring,

22. maar Hannah het nie opgegaan nie, want sy het vir haar man gesê: “Wanneer die seun gespeen is, dan sal ek hom bring dat hy voor die Teenwoordigheid van יהוה kan verskyn en daar vir altyd bly.”

23. Elkanah, haar man, het vir haar gesê: “Doen wat vir jou die beste is. Bly totdat jy hom gespeen het; mag יהוה net Sy woord bevestig.” Die vrou het gebly en haar seun versorg totdat sy hom gespeen het.

24. Toe sy hom gespeen het, het sy hom saam met haar gebring, met ’n drie jaar oue bul, ’n efa meel en ’n houer wyn en sy het hom gebring na die Huis van יהוה in Shiloh, alhoewel die seun jonk was.

25. Toe het hulle die bul geslag en die seun na `Eli toe gebring.

26. Sy het gesê: “Ag, my meester, so waar as u self leef, my meester, ek is die vrou wat hier langs u gestaan en tot יהוה gebid het.

27. Vir hierdie seun het ek gebid en יהוה het my versoek aan my gegee wat ek van Hom gevra het.

28. So het ek hom ook toegewy aan יהוה; al die dae wat hy leef is hy aan יהוה toegewy.” Hulle het יהוה daar aanbid.