Die Boodskap

Spreuke 3:20-35 Die Boodskap (DB)

20. Sy kennis het fonteine uit die dieptes laat opspring en het wolke reën gegee.

21. Jong vriend, daar is twee dinge waarsonder jy in hierdie lewe nie kan klaarkom nie. Een is ’n begeerte om reg te leef. Die ander is om te weet hoe om reg te praat en te doen.

22. Dié twee sal jou gelukkig maak. Hulle sal jou lewe versier.

23. Dan sal jy ook veilig en beskut voel.

24. Wanneer jy gaan slaap, sal jy nie bang wees nie. Jou nagrus sal goed wees.

25. Moenie vir ’n skielike krisis of ramp skrik nie. Dikwels is dit net bedoel vir slegte mense wat nie die Here liefhet nie. Jy weet mos die Here is altyd by jou.

26. Jy kan altyd op Hom vertrou. Hy sal jou beskerm.

27. Gee om vir die arme. As jy kan, moet jy nooit goed soos geld, klere en kos van die arme weghou nie.

28. Help dadelik. Moenie vir jou naaste sê om liewer môre te kom as jy hom vandag al kan help nie.

29. Bly altyd in ’n goeie verhouding met ander. Moenie kwaad teen jou vriend beplan terwyl hy jou vertrou nie.

30. Moenie stry en baklei nie. Moenie rusie maak met iemand wat jou geen kwaad aangedoen het nie.

31. Moet nooit iets wil hê wat aan ’n slegte mens behoort nie. Moet nooit soos hy word nie.

32. ’n Mens wat liefdeloos teenoor ander optree, is vir die Here ’n gruwel. Met die opregtes is Hy goed bevriend.

33. Met ’n goddelose mens se familie gaan dit sleg, terwyl die Here iemand wat wys leef se huis met voorspoed, geluk en kinders oorlaai.

34. Met hulle wat baie van hulleself dink, spot die Here. Hy lag lekker vir hulle. Hulle wat egter nederig is en uit sy hand leef, het Hy oneindig lief.

35. Wyses ontvang in hierdie lewe eer terwyl dommes verneder word.