Die Boodskap

Spreuke 26:10-15 Die Boodskap (DB)

10. Moenie sommer enige een wat verbystap vir tuinwerk huur nie. Hy kan groot skade maak. Hy is soos ’n wag wat beheer verloor en op verbygangers skiet.

11. Soos ’n hond wat na sy eie braaksel terugkeer, so is ’n dwaas wat dom dinge oor en oor doen.

12. Ken jy ’n mens wat wys is in sy eie oë? Hy weet mos altyd beter. Wel, daar is ’n groter kans dat ’n dwaas sal verander as hy.

13. ’n Lui mens dink die vreeslikste verskonings uit waarom hy nie wil gaan werk nie. ’n Leeu sal hom opvreet as hy dit sou waag om sy voete buite te sit. Of dalk vang die leeu hom op pad werk toe.

14. Soos ’n deur aan ’n skarnier vas is, so is ’n lui mens aan sy bed vas. Soos ’n deur aan sy skarnier draai, so draai die lui mens om en om op sy bed.

15. ’n Lui mens sal nog aan die tafel sit, maar is te lui om die kos in sy mond te sit.