Die Boodskap

Spreuke 24:15-32 Die Boodskap (DB)

15. Moenie soos ’n slegte mens op ’n medegelowige trap nie. Moenie sy eiendom beskadig of sy huismense seermaak nie.

16. ’n Gelowige staan elke keer na ’n terugslag weer op. Mense wat die Here nie ken nie, oorleef dit nie. Hulle het nie die moed om weer van voor af te begin nie.

17. Moenie bly wees as dit met ander sleg gaan nie, al hou jy niks van hulle nie.

18. As jy dit doen, stel jy die Here teleur. Op ’n goeie dag help Hy weer sulke mense.

19. Moenie jou ontstel oor wat slegte mense aanvang nie. Moet niks van hulle wil hê nie.

20. Hulle het niks om op te hoop nie. Hulle gaan sonder die Here dood.

21. Jy moet die Here liefhê en jou leiers respekteer. Moenie jou ophou met mense wat magshonger is en net hulle eie belang soek nie.

22. ’n Skielike ramp kan hulle tref, dan is dit klaarpraat met hulle.

23. Selfs ’n wyse regter moet hoor: “’n Partydige uitspraak is verkeerd.”

24. Wie die skuldige vryspreek, sal deur niemand weer vertrou word nie.

25. Wie die regte oordeel vel, sal die goeie van die lewe geniet.

26. Mense hou baie van iemand wat eerlik is en reguit op vrae antwoord.

27. Kry eers ’n goeie werk voordat jy ’n huis bou. Verdien eers genoeg voordat jy met ’n gesin begin.

28. Moenie leuens oor ander vertel of iemand doelbewus in ’n swak lig stel nie. Moenie wraaksugtig wees nie.

29. Moenie iemand terugkry vir wat hy aan jou gedoen het nie.

30. Die wysheidsleraar sê: “Ek het by die huis van ’n luiaard verbygeloop. Alles was so verwaarloos. Niks word in stand gehou nie. Die gras is lank.

31. Oral groei die onkruid welig. Boonop was die muur voor die huis stukkend.

32. Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink. Hoekom is dit so? Uiteindelik het ek ’n antwoord gekry: luiheid bring armoede.