Die Boodskap

Spreuke 24:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Moet niks van slegte mense wil hê nie. Moet onder geen omstandighede met hulle bevriend raak nie.

2. Hulle dink net aan verkeerde dinge. Hulle maak net moeilikheid.

3. ’n Gelukkige gesinslewe kom nie vanself nie. ’n Mens moet hard daarvoor werk. Dit is soos ’n huis wat jy bou. Alles moet netjies beplan word.

4. Baie dinkwerk is nodig om dit ’n lekker plek te maak. Fyn smaak is nodig om dit mooi te maak.

5. Wysheid is beter as fisieke krag. Dit maak jou geestelik sterk. Dit help jou om jou probleme op te los.

6. Mense wat die lewe ken, kan jou ook baie help. Hulle sal jou leer om jou daaglikse moeilikhede te hanteer.

7. Wysheid is bo ’n dom mens se vuurmaakplek. Jy tref ’n domme ook nie aan tussen mense wat die lewe ken nie. Natuurlik omdat hy bang is hulle hoor sy domheid.

8. Iemand wat net slegte dinge beplan, kry gou-gou ’n baie slegte naam.

9. Waaroor hy dink en wat hy doen, is een stuk sonde. Vir die gemeenskap is hy ’n verleentheid.

10. ’n Krisis leer jou hoe sterk jy werklik is. As jy ondergaan, was jou kragte maar min.

11. Moenie net toekyk hoe mense onregverdig behandel word nie. Doen iets! Moenie toelaat dat hulle lewens verwoes word nie. Stop dit!

12. Moenie agterna sê jy het niks daarvan geweet nie. Die Here ken ons en weet wat ons dink. Vir Hom kan ons niks wegsteek nie. Hy oordeel elkeen volgens sy werke.

13. Heuning is gesond, lekker om te eet.

14. So is die wysheid ook. Dit is goed vir die gesondheid. Dit waarop die wyse hoop, sal gebeur.

15. Moenie soos ’n slegte mens op ’n medegelowige trap nie. Moenie sy eiendom beskadig of sy huismense seermaak nie.