Die Boodskap

Spreuke 23:12-24-25 Die Boodskap (DB)

12. Maak alles wat die spreuke jou leer jou eie. Spits jou ore om nog meer van die lewe te leer.

13. ’n Kind het dissipline nodig. ’n Pak slae op die regte tyd sal hom goed doen.

14. Wie dit nalaat, stuur sy kind die verderf in.

15. Jong vriend, hoor wat die wysheidsleraar vir jou sê: As jy die wysheid jou eie gemaak het, is ek baie bly.

16. As jy weet wat om op die regte oomblik te sê, loop ek oor van blydskap.

17. Moet niks wil hê van slegte mense nie. Dit kan jou net in die ellende dompel. Wees eerder elke dag baie lief vir die Here.

18. As jy dit doen, wag daar wonderlike dinge op jou. Goeie dinge sal met jou in die toekoms gebeur.

19. Luister goed na wyse raad. Tree reg op. Dink mooi hoe jy wil leef.

20. Moenie jou oorgee aan drank nie. Voor jy weet waar jy is, is jy daaraan verslaaf. Moenie ’n vraat wees wat alles gulsig opslurp nie.

21. ’n Suiplap en ’n vraat word gou arm. Stukkende klere is hulle voorland.

22. Onthou die goeie waardes wat jy in jou ouerhuis geleer het. Moenie jou ouers se harte op hulle oudag breek nie. Hou vas aan die lewenswaarhede wat hulle jou geleer het.

23. Streef na nog meer wysheid. Leer nog meer lewensvaardighede. Probeer nog beter verstaan hoe om reg te lewe.

24-25. Maak jou ouers trots op jou. Maak hulle dankbaar omdat jy in die Here glo en reg wil leef.