Die Boodskap

Spreuke 21:1-13 Die Boodskap (DB)

1. ’n Groot leier dink oor baie dinge, maar die Here rig sy denke. Hy beplan, maar God besluit wat sal gebeur.

2. Elke mens dink hy doen altyd die regte ding. Die Here weet wat in elke mens se hart omgaan.

3. Om die regte dinge te doen en te sê is vir die Here baie belangriker as ’n groot dankoffer.

4. Dit is verkeerd om baie van jouself te dink en op ander neer te sien. Wie daarmee aanhou, kan later nie meer verander nie.

5. Goeie beplanning bring sukses. Oorhaastige optrede kan jou duur te staan kom.

6. Geld wat vinnig en oneerlik gemaak is, bring nie geluk nie. Wie dit doen, draai homself in die strikke van die dood vas.

7. Mense wat heeltyd net verkeerde dinge doen, vernietig hulleself. En dit net omdat hulle weier om reg te leef.

8. ’n Slegte mens se lewe is maar krom en skeef. Die gelowige weet hoe om reg te leef.

9. Dit is beter om in die buitekamer te bly as in die huis by iemand wat heeltyd stry.

10. ’n Slegte mens smag na alles wat verkeerd is. Hy gee niks vir ander mense om nie.

11. ’n Wyse kan nooit genoeg van die lewe leer nie. Wanneer ’n slegte mens vir sy dade gestraf word, moet ’n wyse ’n les daaruit leer. Wanneer ’n wyse kennis van die lewe opdoen, moet hy dit dadelik sy eie maak.

12. Die Here weet wat slegte mense doen. Hy kan hulle in ’n oogwink vernietig.

13. Wie ’n arme se noodkreet ignoreer, sal eendag self in die moeilikheid wees. Maar dan sal niemand help nie.