Die Boodskap

Spreuke 11:24-31 Die Boodskap (DB)

24. Wie baie vir ander gee, word al hoe ryker. Wie suinig is, word al hoe armer.

25. Wie ander help om beter te lewe is self voorspoedig. Wie ander se nood raaksien, is ’n gelukkige mens. As jy ander help, sal jy gehelp word as jy dit nodig het.

26. Wie nie respek vir die gemeenskap se belange het nie, word verstoot. Wie die nood van die gemeenskap raaksien, word deur almal geëer.

27. Wie reg leef, verheerlik God. Wie na slegte dinge smag, word daardeur verwoes.

28. Wie dink hy kan op sy geld vertrou, sal wreed ontnugter word. Wie in die Here glo, gaan van krag tot krag.

29. Wie sy huisgesin te na kom se lewe sal leeg en sinloos wees. ’n Dom mens wat nie weet hoe om reg te lewe nie, sal nog vir ’n wyse werk.

30. Die vrug van die geloof is die lewe in al sy volheid. ’n Wyse verstaan die honger en die nood van ander.

31. As selfs ’n gelowige hier op aarde ly, hoeveel te meer nie ’n goddelose en ’n sondaar nie.