Die Boodskap

Rigters 8:6-14 Die Boodskap (DB)

6. Die leiers van Sukkot sê toe vir hom: “Hoekom moet ons vir jou en jou manskappe kos gee? Julle het nog nie vir Sebag en Salmunna gevang nie.”

7. Daarop het Gideon geantwoord: “Nou maar goed, maar nadat die Here Sebag en Salmunna aan my uitgelewer het, sal ek terugkom en julle uitmekaar kom skeur met doringtakke en haakdorings wat ek uit die woestyn gaan saambring.”

8. Van daar af is hy verder na Pniël toe, waar hy dieselfde versoek vir kos aan die inwoners gerig het. Weereens het hy dieselfde antwoord as in Sukkot gekry.

9. Hy sê toe vir die mense van Pniël: “Na my oorwinning kom ek terug en dan kom breek ek die wagtoring van julle stad tot op die grond af.”

10. Teen dié tyd was Sebag en Salmunna al in Karkor. Saam met hulle was ’n leër van ongeveer 15 000 soldate. Dit is al soldate wat oorgebly het van die hele weermag van die mense van die ooste, want 120 000 van hulle beste soldate was reeds dood.

11. Gideon het met die karavaanroete ooswaarts gegaan tot by Nobag en Jogboha, waar hy die Midianitiese leër onverhoeds betrap het.

12. Sebag en Salmunna het probeer vlug, maar Gideon het hulle agternagesit en hulle gevang. Dit het die hele leër paniekbevange gemaak.

13. Op pad terug van die slagveld af het Gideon deur die pas by Geres gegaan.

14. Daar het hy ’n jong man van Sukkot gevang. Tydens ondervraging het hy hom gedwing om die name van die 77 leiers en hoofde van Sukkot vir hom neer te skryf.