Die Boodskap

Rigters 16:7-18 Die Boodskap (DB)

7. Simson het haar geantwoord: “As hulle my met sewe klam boogsnare vasmaak, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.”

8. Die leiers van die Filistyne het toe vir haar sewe klam boogsnare gebring waarmee sy Simson vasgebind het.

9. Intussen het sy ook vooraf van die mans in ’n ander vertrek in die huis laat wegkruip. Toe skree sy: “Simson, die Filistyne is hier!” Simson het die boogsnare so maklik gebreek soos ’n garingdraad wanneer jy dit met ’n vlam brand. Die geheim van sy krag het steeds onbekend gebly.

10. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy het my vir die gek gehou deur nie vir my die waarheid te vertel nie. Sê nou vir my waarmee ’n mens jou sou kon vasmaak!”

11. Sy antwoord was: “As ek behoorlik vasgemaak word met splinternuwe toue wat nog nooit gebruik is nie, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.”

12. Delila het toe nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind en weer die mans soos die vorige keer in ’n ander vertrek laat wegkruip. Sy skree toe vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Simson het die toue om sy arms gebreek asof dit garingdraad was.

13. Toe sê Delila vir hom: “Jy het my weer vir die gek gehou deur nie vir my die waarheid te vertel nie. Sê nou regtig vir my waarmee ’n mens jou kan vasmaak!”“Goed,” sê hy vir haar, “jy moet net my sewe haarlokke tussen die materiaal op jou weefstoel inweef en dit met ’n pen vasmaak, dan sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.”

14. Terwyl hy geslaap het, het Delila sy sewe haarlokke tussen die materiaal in die weefstoel ingeweef en dit met ’n pen vasgesteek. Toe skree sy weer vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Hy het wakker geword en sy hare met een pluk uit die weefstoel losgeruk, pen en al.

15. Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou nie? Jy het my nou al drie keer bedrieg.”

16. Sy het dae lank aangehou neul en kerm totdat hy dit later nie meer kon uithou nie.

17. Hy het toe vir haar die waarheid vertel: “Van my geboorte af is my hare nog nooit gesny nie omdat ek aan God toegewy is. As my hare afgesny word, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.”

18. Delila het besef dat hy dié keer die waarheid gepraat het; daarom het sy hierdie boodskap vir die leiers van die Filistyne gestuur: “Kom nog een keer terug. Hierdie keer het hy my die waarheid vertel!” Hulle het toe teruggekom en die geld saam met hulle gebring.