Die Boodskap

Rigters 16:26-31 Die Boodskap (DB)

26. Simson het vir die helper wat hom gelei het, gesê: “Ek wil so staan dat ek teen die stutpilare van die tempel kan leun.”

27. Die tempel was vol mense. Al die leiers van die Filistyne was daar. Daar was ook omtrent 3 000 mense op die dak van die tempel, besig om na Simson te kyk en die spot met hom te dryf.

28. Toe bid Simson: “Here my God, sien my tog raak! O God, maak my nog hierdie een keer sterk sodat ek my op hierdie Filistyne kan wreek oor my twee oë!”

29. Simson het die twee middelste stutpilare van die tempel tussen sy arms vasgevat, met al sy mag teen hulle gedruk

30. en uitgeroep: “Laat my saam met die Filistyne doodgaan!” Hy het al sy krag ingespan en die tempel het inmekaargeval op die leiers van die Filistyne en al die mense daarin. Simson het met sy dood meer mense doodgemaak as in sy hele leeftyd.

31. Daarna het sy broers en die res van sy familie gekom en sy liggaam kom haal. Hulle het hom teruggevat en hom tussen die dorpe Sora en Estaol in sy pa, Manoag, se graf gaan begrawe. Simson was twintig jaar lank die leier van Israel.