Die Boodskap

Rigters 14:16-20 Die Boodskap (DB)

16. Simson se vrou het toe by hom gaan huil en gesê: “Jy het my nie lief nie, jy haat my! Jy het vir my vriende ’n raaisel gevra sonder om eers vir my te sê wat dit beteken.”“Maar ek het dit nie eens vir my pa-hulle vertel nie,” het hy vir haar gesê, “waarom sou ek vir jou die antwoord gee!”

17. Sy het die hele feestyd by hom bly neul daaroor. Op die sewende dag was hy uiteindelik moeg daarvoor en het vir haar die antwoord gegee.

18. Op die sewende dag van die fees, net voor sononder, het die mense van die dorp na Simson toe gekom en vir hom gesê: “Wat is soeter as heuning en wat is sterker as ’n leeu?” Hy sê toe vir hulle: “As julle nie by my vrou gaan neul het nie, sou julle nie die antwoord op die raaisel gekry het nie.”

19. Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy is af na Askelon toe. Daar het hy 30 mans doodgemaak, hulle klere uitgetrek en dit vir die mans gegee wat die raaisel uitgelê het. Hy was so kwaad oor wat gebeur het dat hy terug is na sy ouerhuis toe om daar te gaan bly.

20. Die vrou het toe getrou met die man wat Simson se strooijonker was.