Die Boodskap

Maleagi 2:7-11 Die Boodskap (DB)

7. ’n Priester moet die mense kan leer wie en wat God is, dis sy werk. Hy moet ’n voorbeeld wees van hoe my kinders My moet dien, want hy is die verteenwoordiger van die Here, die Grootkoning.

8. Ongelukkig, priesters, kon dit nie van julle gesê word nie. Julle het baie mense mislei omdat julle hulle verkeerd geleer het. So het julle ’n streep deur my ooreenkoms met Levi getrek.

9. Daarom gaan Ek julle voor julle eie mense in die verleentheid bring en sonder eer los. Die rede daarvoor is in die eerste plek omdat julle nie na My wou luister nie, maar julle eie kop gevolg het. En in die tweede plek het julle nie almal gelyk behandel nie, maar julle het kant gekies vir dié wat agteraf vir julle omkoopgeskenke gegee het.

10. Is ons nie almal een Pa se kinders nie? Het dieselfde God ons nie gemaak nie? Hoekom breek julle God se ooreenkoms met ons voorouers deur mekaar so te belieg en te bedrieg?

11. Dit wat in Juda en Israel en in Jerusalem gebeur, is skandelik. Die mans van Juda trou met buitelandse vroue wat God glad nie dien nie, en dan kom hulle na die Here se heilige tempel toe om te kom offer asof daar niks mee verkeerd is nie.