Die Boodskap

Levitikus 23:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het verder deur Moses

2. vir die Israeliete gesê: “Hier is my feesdae. Julle moet op hierdie dae vir My bymekaarkom.”

3. “Die sewende dag is die Here se dag. Julle moet ses dae lank julle gewone werk doen. Die sewende dag moet julle daarmee ophou, sodat julle byeenkomste vir My kan hou. Julle mag dan nie aangaan met julle werk nie. Dit is die Here se sabbatdag. Julle moet dit hou waar julle ook al woon.

4. “Naas die sabbatdag is daar nóg vaste feesdae van die Here waarop julle byeenkomste vir My moet hou.”

5. “Die paasfees vir die Here is in die lente. Dit begin net na sononder op die veertiende dag van die eerste maand.

6. Op die volgende dag, die vyftiende dag, begin die fees van die brode waarin daar nie suurdeeg is nie. Sewe dae lank moet julle brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie om die Here te vereer.

7. Op die eerste dag van die fees moet julle ophou met alles waarmee julle besig was en voor die Here bymekaarkom.

8. Op elkeen van die volgende sewe dae moet julle vir die Here ’n offer bring wat verbrand word. Op die sewende dag moet julle weer ophou met al julle werk en weer vir die Here bymekaarkom.”

9. Die Here het verder deur Moses

10. vir die Israeliete gesê: “Wanneer julle eendag in die land woon wat Ek aan julle gaan gee en julle begin daar oeste insamel, moet julle die eerste gerf graan wat julle afsny na my tent bring.

11. Die dienaar by die tent moet dit op die eerste dag na die sabbatdag vir die Here gaan gee sodat die Here julle goedgesind kan wees.