Die Boodskap

Levitikus 22:16-24 Die Boodskap (DB)

16. As hulle ander mense toelaat om daarvan te eet, sal Ek hulle daarvoor verantwoordelik hou. Ek, die Here, het die dienaars Myne alleen gemaak.”

17. Die Here het ook nog vir Moses gesê

18. om vir Aäron en sy seuns en vir die Israeliete te sê: “Wanneer enige Israeliet of enige van die mense wat by hulle bly, ’n offer vir die Here bring, óf om sy belofte na te kom óf bloot net vrywillig,

19. en hy wil hê dat die Here dit moet aanvaar, moet dit ’n bul of ’n skaapram of ’n bokram wees wat nie enige foute het nie.

20. Julle moenie ’n dier bring wat iets makeer nie, want die Here sal dit nie aanvaar nie.

21. “As iemand ’n offer vir die Here bring om sy beloftes na te kom of gewoon net om sy goeie gesindheid vir die Here te wys, moet dit ’n gesonde dier uit die beeste of die kleinvee wees. As ’n dier iets makeer, gaan dit beslis nie vir die Here reg wees nie.

22. Julle mag nie vir die Here diere bring wat blind, beseer of vermink is, wat oop sere het, wat brandsiek is of sere op sy vel het nie. Julle mag nie sulke diere vir die Here bring nie.

23. As dit sommer ’n vrywillige offer is, mag julle wel ’n bees of ’n skaap bring wat misvormd is of onderontwikkeld is. Julle mag egter nie met sulke diere julle beloftes nakom nie.

24. “Julle mag nie ’n gekastreerde dier, of dit ’n os of ’n hamel is, vir die Here offer nie. Dit mag nie in julle land gebeur nie.