Die Boodskap

Levitikus 22:12-22 Die Boodskap (DB)

12. As sy dogter met iemand trou wat nie ook by die tent werk nie, mag sy nie langer saam eet aan sy deel van die offers nie.

13. As sy dogter ’n weduwee word of van haar man skei, en sy het geen kinders nie en sy kom bly weer by haar pa soos toe sy nog ’n afhanklike kind was, mag sy saam met haar pa van sy deel eet. Iemand wat nie uit Aäron se familie is nie, mag egter glad nie van die offers eet nie.

14. As iemand van die offers geëet het sonder om te weet dat dit offervleis is, moet hy dit vir die dienaar by die tent vergoed en 120% van die waarde daarvan vir hom teruggee.

15. Die dienaars mag op geen manier toelaat dat die offers wat die Israeliete vir die Here bring, verkeerd gebruik word nie.

16. As hulle ander mense toelaat om daarvan te eet, sal Ek hulle daarvoor verantwoordelik hou. Ek, die Here, het die dienaars Myne alleen gemaak.”

17. Die Here het ook nog vir Moses gesê

18. om vir Aäron en sy seuns en vir die Israeliete te sê: “Wanneer enige Israeliet of enige van die mense wat by hulle bly, ’n offer vir die Here bring, óf om sy belofte na te kom óf bloot net vrywillig,

19. en hy wil hê dat die Here dit moet aanvaar, moet dit ’n bul of ’n skaapram of ’n bokram wees wat nie enige foute het nie.

20. Julle moenie ’n dier bring wat iets makeer nie, want die Here sal dit nie aanvaar nie.

21. “As iemand ’n offer vir die Here bring om sy beloftes na te kom of gewoon net om sy goeie gesindheid vir die Here te wys, moet dit ’n gesonde dier uit die beeste of die kleinvee wees. As ’n dier iets makeer, gaan dit beslis nie vir die Here reg wees nie.

22. Julle mag nie vir die Here diere bring wat blind, beseer of vermink is, wat oop sere het, wat brandsiek is of sere op sy vel het nie. Julle mag nie sulke diere vir die Here bring nie.