Die Boodskap

Levitikus 14:11-30 Die Boodskap (DB)

11. Die werker by die tent laat dan die man wat teruggekom het, saam met sy offer voor die Here by die ingang van die tent staan.

12. Die dienaar vat een van die rammetjies en die olyfolie, en bring dit na die altaar om dit aan die Here op te dra as ’n offer vir die man se skuld by God.

13. Hy slag die rammetjie op dieselfde plek waar die ander offers vir die sonde verbrand word. Die dienaar mag self ook van hierdie offer eet, net soos hy ook ’n deel van die offer vir die sonde mag eet. Dit is vir God en sy dienaars by die altaar bedoel.

14. “Die dienaar vat die bloed van die rammetjie wat hy geslag het en smeer daarvan aan die persoon wat teruggekom het se regteroorlel, aan sy regterduim en aan sy regtergroottoon.

15. Hy gooi dan van die olie in sy linkerpalm,

16. steek sy regtervinger daarin en sprinkel dit met sy vinger sewe keer voor die Here op die grond.

17. Van die olie wat in sy hand oor is, smeer hy bo-oor die bloed wat hy aan die man se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon gesmeer het.

18. “Die olie wat in sy hand oor is, gooi hy op die persoon se kop uit. So verbind die dienaar weer die man met God en sy volk.

19. Daarna slag die dienaar ook die offer vir die sonde. Op hierdie manier kan iemand wat ’n velsiekte gehad het en wat hom van die ander mense moes onttrek, weer terugkom in die kamp nadat hy gesond geword het. Hy self slag dan die offer

20. wat die dienaar saam met die graan op die altaar moet verbrand. Die dienaar help hom op hierdie manier om weer deel te word van die mense in die kamp.

21. “As iemand te arm is vir twee rammetjies, hoef hy net een rammetjie te vat om te offer. Die offer uit die graan hoef ook net een tiende deel meel te wees wat met olie en een sesde liter olyfolie gemeng is.

22. Hy moet twee duiwe of tortelduiwe in die hande kry, soos wat hy dit wel kan bekostig. Die een duif is ’n offer vir die sonde en die ander een ’n offer wat op die altaar verbrand word.

23. Hy bring al hierdie goed op die agtste dag na die tent van ontmoeting toe waar die Here is sodat hy weer herstel kan word.

24. Die dienaar moet dan die rammetjie wat vir die skuld geoffer word en die sesde liter olyfolie by hom vat en dit alles aan die Here gaan opdra.

25. Ná hy die rammetjie geslag het, moet hy die dier se bloed vat en aan die man se regteroor, sy regterduim en sy regtergroottoon smeer.

26. Hy gooi van die olie in sy linkerhand

27. en hy sprinkel daarvan met sy regtervinger sewe keer voor die Here.

28. Hy vat ook van die olie in sy hand en smeer dit oor dieselfde plek waar hy die bloed vroeër aan die persoon se regteroor, sy regterduim en sy regtergroottoon gesmeer het.

29. Die res van die olie wat in sy hand oor is, gooi hy op die man se kop uit om hom weer in ere te herstel.

30. “Daarna offer hy een van die duiwe of tortelduiwe vir die sonde en die ander om op die altaar te verbrand.