Die Boodskap

Judas 1:12-25 Die Boodskap (DB)

12. Hierdie mense besoedel die feesgeleenthede waar julle nagmaal hou. Wat ’n skaamtelose spul! Hulle dink net aan hulleself.

13. Hierdie mense is soos wolke wat geen reën bring nie en wat deur die wind rondgewaai word. Hulle is soos vrugtebome wat laat in die seisoen nog geen vrugte gedra het nie. Hulle is soos bome wat morsdood is. Hulle is eintlik al klaar ontwortel. Hulle is soos reusegolwe wat net ’n spul nuttelose skuim op die strand uitspoel. Hulle is soos sterre wat uit hulle baan geslinger is en koersloos in die hemel rondswerf. God hou vir hulle almal ’n plek in die pikdonker dieptes van die doderyk gereed - vir altyd!

14. Henog, daardie godvresende man uit die sewende geslag na Adam, het ons lank gelede al deur ’n profetiese woord teen hierdie sondaars gewaarsku. Hy het gesê:“Kyk mooi! Die Here is op pad met sy hemelse weermag.

15. Hy kom om sy oordeel oor almal te voltrek. Vir sondaars sal dit ’n verskriklike dag wees. Elke goddelose daad wat mense in hulle slegtheid aangevang het en elke lelike woord wat hulle teen die Here kwytgeraak het, sal op daardie dag gestraf word.”

16. Die indringers daar by julle is ’n opperste spul klakouse. Hulle is met niks tevrede nie. Hulle loop heeltyd agter al hulle sondige begeertes aan. Boonop praat hulle groot. Hulle misbruik ander mense deur vleitaal, maar, wees gewaarsku, dis glad nie eg nie.

17. My liewe vriende, julle moet onthou dat die apostels van ons Here Jesus Christus julle vroeër ook teen hierdie mense gewaarsku het.

18. Hulle het vir julle gesê: “In die laaste dae op aarde sal daar mense op die toneel verskyn wat agter al die sondes aanloop en doen net wat hulle wil. Hulle sal ’n bespotting van julle maak.”

19. Hierdie slegte mense is besig om die kerk in twee te skeur. Al wat vir hulle saak maak, is hulle eie onbeheerbare drange en drifte. Die Gees van God is glad nie in hulle lewe te sien nie.

20. My liewe vriende, kom ek sê vir julle wat julle moet doen om op die regte pad te bly: Sorg dat julle geloof dag na dag sterker word. Bou julle hele lewe op God. Laat toe dat die Gees kragtig deur julle werk wanneer julle bid.

21. Laat God se liefde julle lewe omring soos ’n sterk muur. Plaas al julle hoop op die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Hy gee so baie vir julle om dat Hy vir julle die ewige lewe sal gee.

22. Gee om vir mense wie se geloof nog swak is. Help hulle sodat hulle geloof sterker kan word, al verdien hulle dit nie.

23. Diegene wat op sleeptou geneem word deur hierdie mense se doen en late moet julle uit die vuur ruk voordat dit te laat is. En aan ander mense wat verkeerd doen, moet julle die nodige liefde bewys. Doen dit versigtig, maar hou aan, ook al verdien hulle dit nie. Julle moet egter niks te doen hê met al die verskriklike dinge wat hulle aanvang nie.

24. Ons dien ’n wonderlike God. Hy is baie sterk. Hy kan sorg dat julle nooit in die sonde val nie. Hy kan julle beskerm sodat julle veilig by Hom in sy nuwe wêreld aankom, vol vreugde en met lofliedere in julle hart sodat julle sy grootheid vir altyd kan beleef.

25. Aan die enigste ware God, ons Redder deur Jesus Christus, ons Here, behoort al die hemelse glorie en koningskap, die krag en die mag van altyd af, maar ook vandag en môre - ja, tot in die verste ewigheid. Vir seker! Amen.