Die Boodskap

Judas 1:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Van Judas. Ek is ’n dienskneg van Jesus Christus en die broer van Jakobus. Ek skryf aan almal van julle wie God die Vader geroep het om in Hom te glo. Hy het julle baie lief. Julle word deur Jesus Christus opgepas.

2. My gebed is dat die sluise van God se onverdiende goedheid, sy hemelse vrede en sy liefde voluit oor julle lewe oopgetrek sal word.

3. My liewe vriende, ek het al lankal besluit om aan julle te skryf. My plan was om met julle te praat oor wat dit vir ons almal beteken om in Christus te glo. Maar toe ek hoor wat daar by julle aan die gang is, het ek dadelik van plan verander. Nou skryf ek om julle aan te spoor - nee, om julle te smeek! - om wal te gooi. Julle moet keer dat die ware geloof deur allerhande vals stories verdraai word. Julle weet tog dat die goeie nuus oor Christus eens en vir altyd deur God se boodskappers aan ons almal in die kerk bekendgemaak is. Niemand kan nog enigiets daarby voeg nie.

4. ’n Klompie vals mense het stil-stil daar by julle in die kerk ingesluip. Hulle is ’n goddelose spul. Maar gelukkig het God al lankal besluit wat Hy met hierdie mense gaan doen. Sy oordeel wag op hulle. Hulle misbruik die goedheid wat God aan ons bewys het, tot hulle eie voordeel. Hulle verdraai dit sodat hulle kan aanhou met hulle smerige sondes. So verwerp hulle ons enigste Meester en ons Here, Jesus Christus.

5. Al ken julle die geskiedenis van Israel, wil ek julle gou weer herinner aan hoe die Here vroeër met sy volk gemaak het wat sy goedheid vertrap het. Toe Hy sy volk uit Egipte verlos het, het Hy almal van hulle vernietig wat nie in Hom geglo het nie.

6. Julle ken ook die verhaal van die engele wat hulle hemelse woonplek verlaat het. Hulle is nou God se gevangenes. Hulle word daar in die pikdonker dieptes van die doderyk vasgeketting totdat God se groot oordeelsdag aanbreek.

7. Julle onthou ook van Sodom en Gomorra en ’n paar ander stede in hulle omgewing. Hulle het dieselfde sondes as die engele gepleeg. Hulle het hulle oorgegee aan losbandigheid. Hulle het selfs probeer om seksuele gemeenskap met die engele te hê. Nou brand hulle almal in die oordeelsvuur. Hulle pyn sal nooit ophou nie. Dit moet ’n waarskuwing wees vir almal wat in sonde leef.

8. Die mense wat daar by julle ingesluip het, vang dieselfde dinge aan. Hulle spog oor sogenaamde openbarings wat hulle in hulle drome ontvang het wat aan hulle die reg gee om verkeerde dinge te doen. Daarom pleeg hulle die afstootlikste sondes. Hulle steur hulle glad nie aan die Here se gesag nie. Kyk net hoe beledig hulle die engele in die hemel.

9. Weet julle, nie eens Migael, die hoof van die engele, het dit gewaag om een lelike ding te sê toe hy en die duiwel op ’n dag met mekaar in ’n woordestryd gewikkel was nie. Dit was na Moses se dood toe hulle gestry het oor wat van sy liggaam gaan word. Tog het Migael nie ’n enkele beledigende woord vir die duiwel gesê nie. Hy het dit aan God oorgelaat om hom te veroordeel. Al wat Migael vir die duiwel gesê het, was: “Die Here sal met jou afreken; Hy sal jou straf!”

10. Daardie mense daar by julle sê allerhande lelike dinge oor die engele. Hulle weet nie waarmee hulle besig is nie. Hulle is soos ’n trop wilde diere wat geen verstand het nie. Hulle loop agter hulle dierlike instinkte aan. Dit is juis hulle ondergang.

11. ’n Verskriklike einde wag op hulle. Hulle stap op dieselfde pad van sonde as Kain. Hulle pleeg dieselfde bedrog as Bileam ter wille van geld. En, net soos Korag, kom hulle in opstand. Hulle ondergang staan vas.

12. Hierdie mense besoedel die feesgeleenthede waar julle nagmaal hou. Wat ’n skaamtelose spul! Hulle dink net aan hulleself.