Die Boodskap

Josua 18:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Toe die land uiteindelik onder die Israeliete se beheer was, het hulle ’n volksvergadering by Silo gehou en ook die tabernakel daar opgeslaan.

2. Saam met hulle was die sewe stamme wat nog nie hulle deel van die land in besit geneem het nie.

3. Toe vra Josua vir die Israeliete: “Hoe lank gaan julle nog wag om die gebied wat die Here, die God van julle voorvaders, vir julle gegee het, julle eie te maak?

4. Kies nou drie persone uit elkeen van hierdie stamme, dan stuur ek hulle om vir my ’n opname van hierdie gebied te gaan maak.

5. Hulle moet die gebied in sewe dele verdeel. Dit sluit die suidelike deel uit wat aan Juda behoort; ook die noordelike deel waar Josef se kinders bly.

6. “Hulle moet vir my die grense van die sewe gedeeltes bring sodat ek die verdeling hier in die teenwoordigheid van die Here ons God kan maak.

7. Die Leviete kry nie enige grond nie, want die Here het hulle die voorreg gegee om priesters in sy diens te wees. Wat Gad, Ruben en die halwe Manassestam betref, hulle het reeds hulle gedeelte aan die oostekant van die Jordaan gekry toe Moses die dienaar van die Here nog geleef het.”

8. Die groep het hulle toe gereedgemaak om die land te gaan opmeet nadat Josua aan hulle die volgende opdragte gegee het: “Gaan die hele gebied deur en bepaal die grense noukeurig, kom dan terug hier na my toe sodat ek hier in Silo in die teenwoordigheid van die Here ’n verdeling kan maak.”

9. Die groep is toe daar weg. Hulle het die gebied in sewe dele op hulle kaart verdeel en ook al die dorpe in elke gebied opgeskryf. Daarna is hulle terug na Josua toe in die kamp by Silo.

10. Daar het Josua toe die land onder die oorblywende stamme, in die teenwoordigheid van die Here, verdeel.