Die Boodskap

Josua 15:7-13 Die Boodskap (DB)

7. Daarvandaan loop dit deur die Akorlaagte op na Debir toe, waar dit noordwaarts swaai na Gilgal toe, wat regoor Adummimspas, suid van die spruit, lê. Dan loop die grens van Juda verder tot by die fonteine van En-Semes en En-Rogel.

8. Van hier af gaan die grens op deur die Ben-Hinnomsvallei na die suidelike hang van die Jebusieteberg, waar die stad Jerusalem geleë is, en dan op na die top van die berg wes van die Hinnomsvallei aan die noordelike punt van die vallei van die Refaïete.

9. Van daar af swaai die grens na die fonteine van Neftoag toe totdat dit uitkom by die dorpe naby die berg Efron. Daarvandaan draai die grens dan na Baäla toe, beter bekend as Kirjat-Jearim.

10. Van Baäla af sirkel dit in ’n westelike rigting na die berg Seïr toe, oor die noordelike hang van die berg Jearim na Kesalon toe en dan af na Bet-Semes en van daar af verder na Timna toe.

11-12. Die grenslyn gaan dan verder tot by die hange van Ekron en draai dan in die rigting van Sikaron, verby Baälberg na Jabne toe, waarna dit teen die kus van die Middellandse See as wesgrens doodloop. Die families van die stam van Juda het in hierdie gebied gebly.

13. Volgens die Here se opdrag aan Josua het hy aan Kaleb die seun van Jefunne ’n gebied binne Juda se grense toegeken, naamlik Kirjat-Arba. Dit is vernoem na Arba, die voorvader van die Enakiete. Hierdie gebied staan ook bekend as Hebron.