Die Boodskap

Jesaja 1:6-21 Die Boodskap (DB)

6. Van kop tot tone is daar nie meer ’n gesonde plek aan julle nie. Julle is die ene kneusplekke, slaanmerke en rou wonde. En hulle is nie skoongemaak of verbind of selfs met salf behandel nie.

7. Kyk hoe lyk julle land, dis verwoes. En julle stede is afgebrand. Julle kan maar net sit en kyk hoe vreemde mense julle lande kaalstroop en verwoes sonder dat julle iets daaromtrent kan doen.

8. Dit is nog net Jerusalem wat oor is. Nie dat dit baie beteken nie, want die stad is so weerloos soos ’n oppasser se hutjie in ’n wingerd of ’n skerm in ’n groentetuin. Jy kan maar sê die stad is klaar omsingel, dit moet nog net ingeneem word.

9. As die Here die Almagtige nie ’n klompie van ons laat oorbly het nie, sou ons net soos Sodom en Gomorra totaal verwoes gewees het.

10. Julle is eintlik net so skuldig soos daardie twee dorpe. So, luister nou na die Here, julle leiers van Sodom. Let op, mense van Gomorra, want God wil julle iets leer.

11. Wat het Ek met hierdie klomp offers van julle te doen? wil die Here weet. Watter betekenis het skape wat geoffer word of die vet van voerbeeste? Ek steur My doodeenvoudig nie meer daaraan nie. Selfs die bloed van beeste, skape en bokke is nie meer vir My aanvaarbaar nie.

12. Wie het julle gevra om die voorportale van my tempel so te kom vertrap met hierdie waardelose offers? Julle trap net die plek vuil met al hierdie diere.

13. Hou op om hier aan te kom met julle offers. Ek sien reg deur julle skynheiligheid! Julle wierookoffers stink vir My! Ek kan dit nie vat dat julle aanhou sonde doen en dan nog steeds ewe vroom hier na die tempel toe kom vir die nuwemaansfeeste en sabbatvierings nie.

14. Ek haat julle rusdae en feeste. Ek is moeg daarvoor, Ek kan dit nie meer verdra nie.

15. Al steek julle julle hande uit na My toe as julle bid, Ek kyk nie eens na julle nie. Julle kan soveel bid as wat julle wil, Ek sal nie na julle luister nie, want julle is almal ’n klomp moordenaars.

16. Gaan kry eers julle lewens reg. Hou op om al hierdie verkeerde goed te doen. Los die slegte goed waarmee julle besig is!

17. Leer eerder hoe om weer goed te doen en sorg dat mense billik en onpartydig behandel word. Help dié wat misbruik word en beskerm die regte van dié wat nie vir hulleself kan sorg en nie al die geleenthede in die lewe het nie.

18. Kom ons handel dié saak nou af, sê die Here. Dit maak nie saak hoe diep die vlekke van julle sonde is nie, Ek kan dit skoonmaak. Al was julle bloedrooi gevlek van die sonde, kan Ek dit wegwas en julle so wit laat word soos sneeu wat nou net geval het. Selfs al is die vlekke van julle sonde purperrooi, sal Ek julle skoonmaak sodat julle so wit soos splinternuwe wol sal lyk.

19. As julle na My wil luister en My toelaat om julle te help, sal julle ’n goeie bestaan in hierdie land kan maak,

20. maar as julle weier en aanhou rebelleer, staar julle oorlog in die gesig. Dit is wat die Here gesê het.

21. Jerusalem, hoe het jy nie verander nie! Die stad wat eens op ’n tyd getrou was aan die Here het soos ’n ontrou straatvrou geword wat agter ander mans aanloop. Daar was ’n tyd dat jy ’n plek was waarin eerlike en ordentlike mense gebly het, maar jy het nou ontaard in ’n wegkruipplek vir moordenaars.