Die Boodskap

Jeremia 9:7-23 Die Boodskap (DB)

7. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Ek sal hulle toets vir suiwerheid soos ’n mens met metaal maak wat jy deur ’n smeltoond laat gaan. Ek kan niks anders doen as my volk so verkeerd maak nie.

8. Hulle tong is soos giftige pyle. Met hulle leuens bedrieg hulle ander mense. Hulle praat met mekaar asof hulle vriende is, maar in hulle hart maak hulle planne om van mekaar ontslae te raak.

9. Behoort Ek hulle nie oor hierdie manier van dink en doen te straf nie?” vra die Here. “Ja, Ek sal wraak neem op hierdie nasie.”

10. “Ek huil omdat daar nie meer weiding vir die diere teen die hange van die berge is nie. Die ou weivelde lê ook verwaarloos en niemand gebruik dit meer nie. My hart is stukkend daaroor. ’n Mens hoor ook nie meer die beeste se gebulk nie. Selfs die voëls en die wilde diere het almal padgegee.”

11. Die Here sê: “Ek sal Jerusalem soos ’n bouval maak. Dit sal ’n plek wees waar die jakkalse graag sal lê. Die stede van Juda sal leegloop, want niemand sal meer daarin bly nie.”

12. Ek vra toe: “Is daar iemand wat genoeg insig het om te verstaan hoekom al hierdie dinge gebeur? Het U dit vir iemand gesê wat dit aan ander mense kan verduidelik? Hoekom is hierdie land so erg verwoes dat niemand dit eens wil waag om daardeur te gaan nie?”

13. Die Here het geantwoord: “Die stad lyk so omdat my mense nie my voorskrifte volg nie. Hulle het geweier om te lewe soos Ek gesê het hulle moet.

14. Om die waarheid te sê, hulle is hardkoppige mense wat net doen wat hulle wil. Hulle het gebuig voor die beelde van die god Baäl soos hulle by hulle voorouers geleer het.”

15. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Kyk, Ek sal hulle bitter kruie gee om te eet en gif om te drink.

16. Ek sal hulle onder ’n klomp nasies versprei. Hulle sal vreemdelinge in hierdie lande wees, want nie hulle of hulle voorouers het hierdie nasies vroeër geken nie. Selfs daar sal hulle nie wegkom nie. Ek sal hulle vyande hulle laat agtervolg totdat daar net mooi niks van hulle oorbly nie.”

17. Die Here het ook gesê: “Dink ’n bietjie na oor wat aan die gang is. Roep al die mense wat gewoonlik by begrafnisse huil, bymekaar. Ook dié wat treurige liedere kan sing.

18. Hulle moet gou maak en met hulle gehuil begin. So sal hulle ons kan help om ook baie droewig te huil.

19. Uit Jerusalem kan ’n mens die desperate gehuil van die mense van die stad hoor. Hulle roep uit: ‘Dit is klaar met ons! Ons is tot die grond toe verneder! Ons is uit die land gedryf en ons huise is platgeslaan.’”

20. Die vroue van die land moet luister wat die Here te sê het. Hoor baie mooi wat Hy sê: “Julle moet julle dogters leer om hartseer te word. Verder moet die vroue mekaar leer om liedere te sing wat by dood en begrafnis sal pas.

21. En as hulle vra hoekom hierdie soort liedere geleer moet word, is die antwoord: ‘Die dood het deur die venster in ons huis ingekom. Daar is nie meer kinders wat in die strate kan speel of jongmense wat by die stadspleine bymekaar kan kom nie.’”

22. Jy moet sê, die Here sê: “Die lyke van mense sal oral op die oop velde lê soos mis. Dit sal ook lyk soos die bondels graan op die landerye nadat dit afgeoes is. Niemand sal dit bymekaarmaak nie. Net so sal daar absoluut niemand oor wees om die mense te begrawe nie.”

23. Die Here sê: “’n Mens wat wysheid het, moet nie loop en spog met sy kennis nie. Net so moet iemand wat sterk is, nie grootpraat oor sy krag nie. Dieselfde geld vir mense wat ryk is; hulle moet nie dink hulle is beter as ander mense omdat hulle baie geld en goed het nie.