Die Boodskap

Jeremia 50:2-9 Die Boodskap (DB)

2. Die Here sê: “Vertel vir die hele wêreld, sê dit oral. Skryf dit op ’n banier sodat almal dit kan sien. Moet niks wegsteek nie! Sê en skryf: Babel is ingeneem! Hulle afgode, Bel en Marduk, is verneder en verslae oor die vernietiging. Al Babel se afgode het in die skande gekom, want hulle is eintlik niks werd nie. Die afgryslike afgodsbeelde is ook verwoes.

3. ’n Volk het uit die noorde gekom en Babel aangeval. Babel is so erg vernietig dat niemand meer daar sal kan bly nie. Al wat mens en dier is, het weggevlug.”

4. Die Here God sê: “In hierdie tyd sal die mense van Israel en Juda weer bymekaarkom. Hulle sal huil omdat hulle jammer is oor alles wat hulle verkeerd gedoen het. In dié gesindheid sal hulle na My toe kom en probeer om weer in my goeie boekies te kom.

5. Hulle sal vra hoe om by Jerusalem uit te kom en soontoe begin gaan. Hulle sal besluit om ’n ooreenkoms met die Here te maak wat nooit weer sal ophou bestaan nie. Hierdie ooreenkoms sal ook nooit verbreek word nie.”

6. Die Here sê ook van sy volk: “Hulle is soos verdwaalde skape. Hulle herders het hulle in ’n verkeerde koers gelei en gelos om in die berge rond te dwaal. Op die ou einde het hulle heeltemal in die heuwels verdwaal. Hulle het vergeet waar hulle rusplek is.

7. Almal wat hulle teëgekom het, het hulle skade aangedoen. Hulle vyande het gesê: ‘As ons hulle aanval, doen ons niks verkeerds nie. Hulle het verkeerd gedoen. Dit is hulle wat die verkeerde dinge gedoen het wat die Here ongelukkig maak. Hy is hulle ware rusplek en hulle voorouers het Hom vir alles vertrou. Dit is teenoor Hom dat hulle verkeerd gedoen het.’”

8. Die Here sê vir sy volk: “Vlug weg uit Babel! Gee pad uit die land van die Babiloniërs! Wees julle die voorbokke wat die koers wys vir die ander wat op pad terug is na julle eie land toe.

9. Kyk mooi wat Ek gaan doen. Ek gaan ’n sterk mag op die been bring uit nasies wat uit die noorde kom. Ek sal hulle teen Babel laat optrek en die stad van die buitewêreld laat afsny. Hulle sal die stad oorneem. Hulle sal dit regkry deur hulle wapens baie goed te gebruik en nie een teiken te mis nie.