Die Boodskap

Jeremia 25:31-38 Die Boodskap (DB)

31. Sy geskree sal oor die hele aarde weergalm. Die Here gaan ’n saak maak teen al die nasies. Hy sal soos ’n regter al die mense van die wêreld straf. Mense wat slegte dinge gedoen het, sal Hy in die oorlog laat doodgaan. Dít is wat die Here sê sal gebeur.”

32. Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Let ’n bietjie op, die een volk na die ander gaan deur ’n ramp getref word! ’n Groot storm bou op in die verste uithoeke van die aarde.”

33. In dié tyd sal die mense wat deur die Here afgemaai is, oral oor die aarde dood lê. Niemand sal oor hierdie mense huil nie. Niemand sal die lyke bymekaarmaak en begrawe nie. Hulle sal soos mis oor die grond versprei lê.

34. Leiers, julle is soos herders vir die mense. Julle moet huil en kla en in die stof rondrol van hartseer. Die tyd het gekom dat julle soos skape geslag gaan word. Julle sal soos ’n kleipot val en in skerwe breek.

35. Leiers, julle kan nêrens heen vlug nie. Daar is geen manier hoe julle sal kan vlug nie.

36. Hoor hoe huil en kla die leiers van die mense. Die Here het hulle vreedsame land verwoes.

37. Die Here was so kwaad dat hy die rus en vrede van die nasies weggevat het.

38. Die Here is soos ’n leeu wat uit sy lêplek gekom het op soek na ’n prooi. Hy sal teen die vyand optrek en hulle land verwoes. Dit sal gebeur omdat mense uit wraak doodgemaak sal word en omdat die Here vreeslik kwaad is.