Die Boodskap

Jeremia 24:1-6 Die Boodskap (DB)

1. Koning Jojagin van Juda was die seun van Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het hom uit sy land uit weggevat Babel toe. Saam met Jojagin is ook die leiers van Juda, ambagsmense en ander opgeleide mense na Babel toe weggevat. Nadat dit gebeur het, het die Here vir my ’n droom laat sien van twee mandjies met vye wat voor die tempel van die Here staan.

2. In die een mandjie was daar goeie vye. Dit was van die vye wat eerste ryp geword het. In die ander mandjie was die vye so sleg dat ’n mens dit nie kon eet nie.

3. Die Here het toe vir my gevra: “Wat sien jy, Jeremia?” Ek het geantwoord: “Ek sien vye. Sommige van die vye is baie goed, terwyl ander so sleg is dat ’n mens dit nie kan eet nie.”

4. Die Here het toe vir my hierdie boodskap gegee:

5. “Ek is die Here, die God van Israel, en van hierdie mandjies sê Ek: Die goeie vye is soos die mense van Juda wat Ek uit hulle land laat wegvat het na die land van die Babiloniërs. Dit was vir hulle eie beswil dat Ek dit gedoen het.

6. Maar Ek sal ’n ogie oor hulle hou en kyk dat dit met hulle goed gaan. Ek sal hulle weer na hulle land toe laat terugkom. Soos ’n mens ’n gebou opbou, so sal Ek met die mense maak wat terugkom uit Babel. Ek sal sorg dat dinge weer vir hulle begin regkom. Ek sal hulle nie weer afbreek nie. Dit sal wees asof Ek hulle ’n nuwe volk maak. Ek sal hulle nie laat ophou bestaan nie.