Die Boodskap

Jeremia 13:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir my gesê: “Gaan koop vir jou ’n stuk linne en bind dit om jou heupe vas. Jy moenie die lap was nie.”

2. Ek het toe die lap gaan koop soos die Here vir my gesê het, en dit om my heupe vasgebind.

3. Toe het die Here weer met my gepraat en gesê:

4. “Vat nou die linnelap wat jy dra en gaan na die Eufraat toe. Steek die lap daar in ’n skeur in een van die rotse weg.”

5. Ek het toe na die Eufraat toe gegaan en die lap weggesteek presies soos die Here gesê het ek moes doen.

6. Na ’n lang tyd het die Here vir my gesê: “Gaan terug na die Eufraat toe en gaan haal die lap uit die opening in die rots waar Ek gesê het jy dit moet wegsteek.”

7. Ek het toe teruggegaan na die Eufraat. Toe ek daar kom, het ek die lap uit die skeur in die rots gehaal waar ek dit weggesteek het. Maar die lap het al begin stukkend gaan. ’n Mens sou dit nie meer kon gebruik nie.