Die Boodskap

Jakobus 5:16-20 Die Boodskap (DB)

16. Erken dit openlik as julle dinge gedoen het wat God nie wou gehad het nie. Bid vir mekaar sodat julle gesond kan word. God luister graag na mense wie se saak met Hom reg is.

17. Elia is ’n goeie voorbeeld daarvan. Hy was maar ’n mens net soos ons. Hy het God egter mooi en ernstig gevra dat dit nie moes reën nie. Drie en ’n half jaar lank het die reën toe heeltemal weggebly.

18. Toe bid hy weer en toe begin dit reën. Dit het soveel gereën dat alles weer grasgroen en pragtig was.

19. Liewe Christene, sê nou een van julle raak die koers byster en iemand sou hom reghelp, wat dan? Wel, iemand wat so ’n persoon weer op die regte pad help, help hom om nie sy lewe weg te gooi nie.

20. As hy hom nie gehelp het nie, sou daardie persoon totaal van God af weggedwaal en sonder God gesterf het. Hy sal daardie persoon help om weg te draai van al die verkeerde dinge wat hy gedoen het, asof dit nooit deel van sy lewe was nie.