Die Boodskap

Hebreërs 7:1-4 Die Boodskap (DB)

1. Jesus is ’n priester soos Melgisedek. Wat beteken dit? Melgisedek was sowel die koning van Salem (wat later Jerusalem geword het) as ’n priester van die allergrootste God. Abraham was op ’n keer op pad terug van ’n oorlog af; dit was toe hy die klomp konings verslaan het. Op pad loop hy toe vir Melgisedek raak.

2. Melgisedek seën toe vir Abraham en in ruil gee Abraham vir hom ’n tiende van die goed wat hy in die oorlog afgevat het. Om mee te begin: die naam Melgisedek beteken “koning wat doen wat reg is”. Verder beteken “koning van Salem” eintlik “koning wat vrede maak”.

3. Waar hy vandaan gekom en wie sy pa en ma was, is ’n geheim. Niemand weet wanneer hy gebore is of wanneer hy dood is nie. Hy is net soos die Seun van God. Hy is ook ’n priester vir altyd.

4. Kyk net hoe belangrik was Melgisedek regtig: Abraham, die groot voorvader van God se volk, het aan hom ’n tiende gegee van wat hy in die oorlog gewen het.