Die Boodskap

Habakuk 3:5-14 Die Boodskap (DB)

5. Die teenwoordigheid van die Here veroorsaak vir sommige mense die dood.

6. As hy kom, is dit soos ’n aardbewing wat ’n mens beangs maak. Oeroue berge en heuwels bars uitmekaar en verkrummel van die geskud, niks word onaangeraak gelaat nie.

7. Ek kon die uitwerking van die Here se teenwoordigheid ook op van die ander volke sien. Hulle het in angs aan die bewe gegaan.

8. Sommige mense glo dat riviere en die see sterk magte is wat vyande van die Here is. Die Here is kwaad hieroor. Hy sal daarom soos ’n goed gewapende soldaat veg teen hierdie magte wat hulle gesag uitdaag. Hy sal wen!

9. Hy is reg vir sy vyand en sy wapens sal vir seker sorg dat Hy die geveg sal wen. Hy breek die aarde oop vir die riviere om te vloei.

10. Die natuur reageer op sy teenwoordigheid. Berge bewe, swaar reën spoel in sterk strome af en die ondergrondse water dreun en bruis hoog op.

11. Ook die son en die maan lyk dof teen die blitsende en vernietigende teenwoordigheid van die Here.

12. In sy woede trek Hy oor die aarde om die nasies te straf.

13. Die Here se doel was om Juda te verlos en die koning wat Hy oor hulle aangestel het te red. Hy sal die bevelvoerder van die goddelose mense verslaan en sy mag verbreek.

14. Toe die soldate van die vyand op die volk van die Here afgestorm het om hulle uitmekaar te jaag, het die Here die bevelvoerder deur sy eie wapen laat sterf. Hulle het gedink Israel is ’n maklike prooi.