Die Boodskap

Deuteronomium 5:11-20 Die Boodskap (DB)

11. ‘Moenie die Here se Naam sonder rede gebruik nie. Dink mooi voordat jy dit doen, want Ek, die Here jou God, sal nie toelaat dat mense my Naam sommer net so, sonder rede, gebruik nie.

12. ‘Onderhou die sabbat. Leef anders op die sewende dag van die week, want Ek, die Here jou God, vra dit van jou.

13. Ses dae moet jy baie hard werk,

14. maar op die sewende dag moet jy rus. Dit is ’n dag wat eenkant gesit word vir spesiale diens aan die Here. Op hierdie dag moet niemand werk nie: nie jy nie, ook nie jou kinders, jou werkers, jou diere of die vreemdelinge wat by jou inwoon nie. Al jou werkers moet saam met jou op die sabbat rus.

15. Op dié dag moet jy daaraan dink dat jy self ’n slaaf in Egipte was wat elke dag hard gewerk het, maar dat die Here jou op ’n wonderlike manier daar kom wegvat het. Dit is hoekom jy op die sabbat moet rus en al jou werkers saam met jou.

16. ‘Jy moet jou pa en jou ma liefhê en na hulle luister, want Ek, die Here jou God, vra dit van jou. Dan sal jy lank lewe. Dan sal dit met jou goed gaan in die land wat die Here jou God aan jou wil gee.

17. ‘Jy moet niemand doodmaak nie.

18. ‘Jy moenie ontrou aan jou huweliksmaat wees en by iemand anders slaap nie.

19. ‘Jy moet niks van iemand steel nie.

20. ‘Jy moenie slegte dinge oor ander mense rondvertel nie.