Die Boodskap

Deuteronomium 3:1-10 Die Boodskap (DB)

1. “Toe het ons in die rigting van Basan getrek. Koning Og van Basan en sy weermag het teen ons uitgetrek en ons by Edreï ingewag.

2. Die Here het egter gesê: ‘Moenie vir Og bang wees nie. Julle sal hom en sy volk verslaan en sy land vir julle vat. Maak met hom soos julle met Sihon, die Amoritiese koning van Gesbon, gemaak het.’

3. Die Here het ons gehelp om Og en sy mense te oorwin. Ons het die volk uitgewis. Niemand het oorgebly nie.

4. Ons het ook al die stede ingeneem. Daar was nie ’n plek wat ons nie oorwin het nie. Altesaam 60 stede en die hele Argobgebied waar Og regeer het, was binne ’n kort tyd ons s’n.

5. Al hierdie stede het hoë mure en versterkte ingange gehad. Dan was daar ook nog baie kleiner plekkies sonder mure om wat ons ingeneem het.

6. Ons het al hierdie dorpe en stede se mense uitgewis. Ons het met hulle gemaak soos ons met Sihon die koning van Gesbon gemaak het.

7. Al die vee en waardevolle artikels in die stede het ons vir ons gevat.”

8. “So het ons die hele gebied van die Arnonrivier af tot by die berg Hermon oorwin. Daarmee saam het ons ook die twee sterk Amoritiese konings aan die oostekant van die Jordaan vernietig.

9. (Die mense van Sidon het die berg Hermon Sirion genoem en die Amoriete het daarna verwys as Senir.)

10. Ons het al die stede van koning Og van Basan oorwin. Dit is nou al daardie stede in die Hoogvlakte, die hele Gilead en die hele Basan tot by Salka en Edreï.