Die Boodskap

Deuteronomium 29:20-23 Die Boodskap (DB)

20. Die Here sal sulke mense nie verskoon nie. Hy sal woedend wees oor hulle slegte dade. Hy gee immers om vir sy mense. Hy het hulle so lief dat Hy hulle net vir Homself wil hê. Al die teëspoed en moeilikheid wat in hierdie boek opgeteken is, sal sulke mense tref. Die Here sal hulle vernietig. Niemand sal eens agterna weet dat daar sulke mense soos hulle was nie.

21. Die Here sal hierdie mense eenkant sit, weg van die ander stamme van Israel se mense. Dan sal Hy hulle straf. Al die teëspoed waarvan hierdie boek vertel, sal oor hulle kom.

22. “Julle kleinkinders en agterkleinkinders en vreemdelinge wat van ander lande af kom en later in hierdie land aankom, sal sien hoe verwoes julle land is. Hulle sal sien hoeveel siektes die Here teen die mense van hierdie land gebring het.

23. Hulle sal sien dat die hele land afgebrand is. Al wat oorgebly het, is swael en sout. Alles in julle land is onvrugbaar. Niks wil groei nie. Nie eens gras kom meer op nie. Julle land sal soos Sodom en Gomorra wees, soos Adma en Sebojim. Die Here het mos hierdie stede verwoes toe die inwoners aangehou het om slegte dinge te doen. Hulle het nie ’n gedagte aan God gegee nie. Die Here het toe kwaad geword en hulle met wortel en tak uitgeroei.