Die Boodskap

Deuteronomium 24:1-5 Die Boodskap (DB)

1. “Sê nou dit gebeur dat ’n man met ’n vrou trou en later ontdek dat daar iets aan haar is wat hom afsit. Dan verloor hy sy liefde vir haar. In so ’n geval mag hy ’n brief skryf waarin hy verduidelik dat hy van haar skei. Hy moet hierdie brief vir sy vrou gee. Dan moet sy uit sy huis weggaan.

2. Dit kan dan gebeur dat sy weggaan en met ’n ander man trou.

3. Die tweede man kan dan ook van haar skei of hy kan dalk doodgaan.

4. Dan mag haar eerste man onder geen omstandighede weer met haar trou nie. Sy is nie meer rein nie. As hulle weer trou, sal dit iets afgrysliks vir die Here wees. Julle mag nie die land wat die Here vir julle as ’n geskenk gee, vuil maak deur sulke slegte dinge te doen nie.

5. “’n Man wat pas getroud is, mag nie opgeroep word om in die weermag te gaan veg nie. Hy mag ook nie enige ander werk doen wat hom van sy huis af wegneem nie. Jy moet hom toelaat om die eerste jaar by sy huis te bly. Hy en sy vrou moet aan hulle huwelik werk sodat hulle ’n deeglike grondslag vir ’n gelukkige huwelik kan lê.