Die Boodskap

Deuteronomium 17:1-10 Die Boodskap (DB)

1. “Wanneer jy ’n dier, ’n skaap of ’n bees bring om vir die Here jou God te offer, mag dit nie ’n gebreklike dier wees nie. Met só ’n offer beledig jy die Here. Hy hou net mooi niks daarvan nie.

2. “Sê nou maar iemand wat in ’n dorp bly, breek die ooreenkoms wat die Here jou God met jou gemaak het. Sê nou iemand doen ’n baie slegte ding

3. deur ander gode te aanbid. Hy buig dalk voor die son of die maan of een van die planete of sterre en aanbid hulle asof hulle gode is. Natuurlik het die Here jou God jou verbied om enige ander gode te aanbid.

4. Wel, as jy hoor dat iemand so iets afskuweliks gedoen het, moet jy baie deeglik ondersoek instel na wat daar gebeur het. As dit waar is dat iemand dit gewaag het om so iets afskuweliks in Israel te doen,

5. moet jy daardie mens tot by die uitgang van die stad vat. Daar moet julle hom dan met klippe doodgooi.

6. Maar jy mag nooit iemand doodmaak net omdat een persoon sê dat hy dit gedoen het nie. Daar moet altyd ten minste twee of drie mense wees wat gesien het dat die persoon iets afskuweliks gedoen het.

7. Die mense wat kom vertel het dat die persoon so iets gedoen het, moet altyd die eerste klippe gooi om die persoon dood te maak. Dan moet die ander mense in die dorp ook die persoon met klippe gooi. Op hierdie manier moet jy keer dat slegte dinge tussen julle gebeur.”

8. “Sê nou maar iemand word voor jou hof gedaag, en jy kan nie besluit hoe sy saak hanteer moet word nie. Hierdie persoon het dalk iemand doodgemaak of iemand aangerand of iets anders gedoen wat baie ernstig is. Julle kan nie saamstem hoe om die saak te hanteer of watter straf die skuldige persoon opgelê moet word nie. Hoe hanteer jy dit dan? Wel, gaan na die plek toe wat die Here jou God sal kies om sy huis te laat bou.

9. Gaan dan na die kinders van Levi wat by die huis van die Here sal werk. Daar onder hulle is ook mense wat ernstige hofsake kan hanteer. So ’n ernstige saak moet by hulle uitkom. Hulle sal besluit of die persoon skuldig is, en wat sy straf moet wees as hy skuldig is.

10. Jy moet dan presies doen wat hulle besluit met die skuldige persoon gedoen moet word. Hulle werk nie verniet in die huis wat die Here sal kies om in te woon nie. Doen alles wat hulle vir jou sê om te doen. Lewe soos hulle sê jy moet.