Die Boodskap

Deuteronomium 12:22-32 Die Boodskap (DB)

22. Enigeen kan die vleis eet.

23. Moet net nie die vleis rou eet nie, want die lewe is in die bloed. Daarom moet jy nie vleis met bloed en al eet nie.

24. Moenie die bloed drink nie, maar gooi dit uit.

25. Onthou, moenie die bloed drink nie. As julle hierdie voorskrifte nakom, sal dit met julle en julle kinders baie goed gaan.

26. “Al die offers en die tiendes wat aan die Here gegee word, moet julle net na een plek toe bring.

27. Slegs daar moet julle die brandoffers met die vleis en die bloed volledig op die altaar verbrand. En slegs daar moet julle ’n deel van die slagoffer eet en die bloed op die altaar van die Here uitgooi.

28. “Israel, luister mooi na alles wat ek vir julle sê. Doen wat goed en reg is in die oë van die Here. Dan sal dit met julle en julle kinders vir altyd baie goed gaan.”

29. “Wanneer die Here al die nasies vernietig het sodat julle in die land kan gaan woon,

30. moet julle baie versigtig vir die ander volke se gode wees. Moet hulle glad nie dien nie. Moenie eers wonder hoe die gode aanbid word nie.

31. Moet tog nooit die Here aanbid soos die nasies hulle gode aanbid nie. Hulle doen dinge wat die Here haat. Ter ere van die gode gooi hulle sommer maklik hulle kinders in die vuur. En dit is vir die Here ’n gruwel.

32. “Israel, julle moet alles doen wat ek, Moses, vir julle gesê het. Moet niks hierby voeg nie en moet niks wegneem nie.”