Die Boodskap

Deuteronomium 12:17-26 Die Boodskap (DB)

17. Julle mag egter nie die tiendes van julle koring, mos, olie en die eersgeborenes van julle vee in julle blyplekke eet nie. Ook nie die vrywillige offers wat julle die Here belowe het of enige ander offer nie.

18. Julle en julle kinders asook julle werkers en die Leviete wat in julle dorpe woon, moet hierdie offers net by een plek eet. En dit is die plek wat die Here sal kies. Daar moet julle voor die Here bymekaarkom en bly wees oor julle harde werk.

19. Onthou net, moet nooit die Leviete afskeep nie. So lank as wat julle in die land woon, moet julle vir die Leviete sorg.

20. “Wanneer die Here julle woongebied uitbrei soos Hy belowe het, en julle lus kry vir vleis, mag julle eet wanneer en waar julle ook al wil.

21. En as die plek wat die Here gaan kies vir julle te ver is, kan julle maar van die skape en beeste slag wat die Here vir julle gegee het en by die huis eet.

22. Enigeen kan die vleis eet.

23. Moet net nie die vleis rou eet nie, want die lewe is in die bloed. Daarom moet jy nie vleis met bloed en al eet nie.

24. Moenie die bloed drink nie, maar gooi dit uit.

25. Onthou, moenie die bloed drink nie. As julle hierdie voorskrifte nakom, sal dit met julle en julle kinders baie goed gaan.

26. “Al die offers en die tiendes wat aan die Here gegee word, moet julle net na een plek toe bring.