Die Boodskap

Deuteronomium 1:1-14 Die Boodskap (DB)

1. In hierdie boek vind ’n mens alles wat Moses net voor hulle intog in die Beloofde Land vir Israel gesê het. Moses het dit in die woestyn aan die oostekant van die Jordaan gesê. Dit was toe hulle by Suf tussen Paran en Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab gekamp het.

2. Dit het hulle elf dae gevat om van die berg Horeb in die rigting van die Seïrberg tot by Kades-Barnea te trek.

3. In die 40ste jaar na die uittog uit Egipte, op die eerste Februarie van daardie jaar, het Moses Israel alles vertel wat die Here vir hom gesê het.

4. Dit was in die tyd nadat Moses die twee Oos-Jordaanse konings verslaan het. Hulle was Sihon, die koning van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het, en Og, die koning van Basan wat in Astarot by Edreï gewoon het.

5. In die land Moab oos van die Jordaan het Moses toe die wil van die Here vir Israel verduidelik.

6. “Toe ons nog by die berg Horeb was,” so het Moses sy lang rede begin, “het die Here gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.

7. Trek nou die land binne wat Ek aan julle beloof het. Slaan julle tente op en gaan na die bergland waar die Amoriete aan die westekant van die Jordaan bly. Verslaan die volke in die woestyndele, op die berge, in die kusvlakte en in die Suidland tot aan die kus van die Middellandse See. Trek die land van die Kanaäniete binne en oorwin die hele gebied van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat.

8. Hierdie hele land gee Ek vir julle. Gaan vat dit vir julle. Dit is die land wat Ek nog aan Abraham, Isak, Jakob en hulle nageslag beloof het.’”

9. Moses het vir die volk gesê: “Julle sal nog onthou hoe ek by Horeb vir julle gesê het dat ek julle nie alleen kan help of lei nie.

10. Die Here julle God het julle ’n groot volk gemaak. Ja, julle is al so baie soos die sterre aan die hemel.

11. Mag die Here julle nog duisendvoudig vermeerder soos Hy julle voorouers beloof het. En mag julle almal ryk en gelukkig wees.

12. Julle probleme het egter vir my te swaar geword. Ek alleen kan tog nie met al julle daaglikse probleme en hofsake help nie.

13. Toe het ek vir julle gesê om verstandige en ervare mans uit elke stam van die volk aan te stel. Hulle moes julle dan lei en help.

14. En julle het ingestem.