Die Boodskap

2 Samuel 7:23-29 Die Boodskap (DB)

23. “En watter ander mense is so gelukkig soos die Israeliete, u volk? Hulle is die enigste mense op aarde wat ’n God het wat hulle uit die moeilikheid gehelp het en hulle sy eie volk gemaak het. U het vir Uself naam gemaak toe U groot wonderwerke gedoen het en ander nasies en hulle gode uit hierdie land uitgejaag het om plek te maak vir u mense wat U uit Egipte vrygemaak het.

24. U het die Israeliete u eie volk gemaak vir altyd. En Here, U is hulle God.

25. “Nou vra ek, Here my God, dat U asseblief die belofte wat U gemaak het vir hierdie werker van U en vir sy familie, vir altyd waar sal maak; ja, dat U sal doen wat U gesê het U gaan doen.

26. Mense sal dan altyd met groot respek van U praat en sê: ‘Die magtige Here is Israel se God.’“En laat die koningshuis van Dawid u werker asseblief nie tot niet gaan nie.

27. Magtige Here, God van Israel, U het tog self vir my gesê dat U vir my ’n huis sal bou. Dit is hoekom ek die moed gehad het om te bid soos ek gebid het.

28. Groot Here, U alleen is God. U woorde word waar; ook hierdie mooi woorde wat U vir my gesê het.

29. Maak dan nou asseblief my koningshuis voorspoedig. Gee tog dat my nageslag altyd naby U sal wees. Groot Here, U het ’n belofte gemaak en as U ons help, sal dit altyd met ons goed gaan.”